VARS APRIL 2023

Sakeprofiel: Wellingtonse Plaas Sorg vir Alkoholvrye ‘Vonkel’ by Bahrainse F1

Het jy geweet die roosgeurige alkoholvrye “vonkelwyn” wat letterlik neerreën oor die kampioene-podium en begeesterde toeskouers by die Bahrainse Formule 1 Grand Prix kom reg uit die hartjie van Wellington? Dis reg. Dié wêreldbekende “vonkelwyn” word by Expérience d’Arauna in Wellington vervaardig. In 2004, net voor die eerste Grand Prix in Bahrain, het ‘n oproep uitgegaan vir ‘n alkoholvrye produk (wat voldoen aan dié Moslemland se gebruike) vir die podium, in die plek van sjampanje. Die persoon wie se taak dit was, het ‘n skamele drie weke gehad om met só ‘n produk vorendag te kom. Franse en Italiaanse vervaardigers het hom reeds weggewys. In hierdie tyd gesels hy toe egter met ‘n vriendin en merk spottenderwys op dat sy kop “op ‘n blok” sou wees as hy nie blitsvinnig ‘n plan maak nie. Op haar beurt gesels die vriendin weer met haar broer in Engeland, en hy het ‘n Suid-Afrikaanse vriend wat hom van hierdie einste fabriek op Arauna vertel. Binne ‘n week bevind die

persoonlike sjef van die Kroonprins van Bahrain homself in Suid-Afrika met die konsentraat wat gebottel moet word – vir die podium en die onthaal ná die wedren. Dis ‘n mengsel van rooswater en bestanddele eie aan Bahrain. Na vele probeerslae kry die eienaar van die besigheid, Bernus van der Westhuizen, ‘n werkbare produk aanmekaar geslaan. Met groot haas word dit na Bahrain verskeep waar daardie jaar se Formule 1-wenner, die legendariese Michael Schumacher, in ‘n deurdrenkte rooi Ferrari-uitrusting verklaar dat dit lekker is om na afloop van die wedren na rose te kan ruik! Dié produk word nou reeds twee dekades lank op Wellington vervaardig vir die F1 Grand Prix, asook vir amptelike gebruik in die Bahrainse koningshuis. Gaste aan die plaas kan die produk van naderby besigtig en selfs ‘n glasie geniet! Expérience d’Arauna is ‘n Bolandse oase wat toegevou is in die voorheuwels van die Groenberg. Die negende geslag van dieselfde familie woon steeds hier sedert 1750.

8

VARS | April

Made with FlippingBook - PDF hosting