VARS APRIL 2023

‘n Leerwinkel, genaamd UHU, bied verruklike, topgehalte produkte soos leerbaadjies, beursies, skoene en handsakke te koop teen sakpaspryse. Net langsaan is ’n vintage winkel met items uit vervloë dae. Vars groente en vrugte word op die plaas verpak vir supermarkgroepe. In ‘n aangrensende fabriek word mosterd, slaaisouse en ander produkte vir die uitvoermark vervaardig. Van die vervaardigde items, asook droë vrugte, vars groente, heuning, olyfolie, tuisgebakte beskuit en plaasbrood word te koop aangebied in die Plaaswinkel. Dit is juis hier in dié fabriek waar Arauna die alkoholvrye “vonkelwyn” vir die Bahrainse F1 gemaak het. Expérience d’Arauna is oop van Dinsdae tot Vrydae vanaf 9:00 tot 17:00 , en op Saterdae en Sondae vanaf 9:00 tot 16:00 .

Met smaraggroen grasperke en antieke eikebome wat grens aan ‘n vlei, bied hierdie plaas ‘n blaaskans vir enigeen wat die stadsgewoel wil ontsnap. Besoekers kan ontspan by ’n groot vleidam, omring deur skaduryke bome, terwyl hulle ‘n uitsig geniet wat strek vanaf Tafelberg tot by die koringlande van die Swartland. Daaglikse geregte word voorberei met die klem op vars en kontreikos. Elke Sondag word heerlike plaasetes voorberei met ‘n spyskaart wat weekliks wissel. Geregte soos oondgebraaide skaapboud, hoenderpastei en beesstertbredies word voorgesit met varsgebakte plaasbrood. Die plaas is ten volle gelisensieerd, so gaste kan ‘n glasie plaaslike wyn met hul ete geniet. Die plaas bied ook tuintroues, verjaardagpartytjies en jaareindfunksies aan. “High teas” met allerlei fyngebak, bedien in die fynste porselein, is ‘n instelling by Expérience d’Arauna. Omdat dit ‘n werkende plaas met ‘n baie lang geskiedenis is, is daar heelwat te besigtig: van die ou kelder met sy oorspronklike wyntenke en gereedskap, tot die reuse pot (waarin walvisolie gekook is) wat op 'n skeepsveiling in die vroeë 1900s aangeskaf is. Daar is ook ‘n gemaklike staproete met inspirerende uitsigte en volop foto-geleenthede. ‘n Fietsroete wat al deel van die Absa Cape Epic-bergfietsresies gevorm het, strek ook oor ‘n gedeelte van die plaas. Elke laaste Saterdag van die maand word ‘n plaasmark aangebied waar handwerk, plaasprodukte en tuisgemaakte lekkernye te koop is. ‘n Wynproe van plaaslike wyne word ook elke laaste Vrydagaand van die maand gehou.

Die negende geslag van dieselfde familie woon steeds hier sedert 1750.

Follow us

@drakensteinmunicipality

@DrakensteinMunicipality

9

VARS | April

Made with FlippingBook - PDF hosting