VARS_SEPT 2022

Du Kloof Lodge Ons eerste stop is Du Kloof Lodge wat tussen die N1 en die Molenaarsrivier wegkruip. Hier betower die natuurskoon mens en nét só is jy in ‘n ander wêreld, vêr van die bedrywige stadslewe. “Ons is amptelik deel van Paarl, wat nogal interessant is,” herinner die bestuurder, André Hanekom. “Ons val onder wyk 22 om presies te wees.” Die berg- en rivieruitsig se sjarme word versterk deur die welige plantegroei wat suiker-, fyn-, en slangbos insluit. Hier kan besoekers ook ‘n proteaplaas verken wat soos ‘n doolhof uitgelê is. André vertel ook dat die waboom, wat natuurlik deel van die landskap is, in die oudae aangewend was in die bou van ossewaens. Dagbesoekers kan teen R90 per persoon per dag toegang kry tot die perseel en alle aktiwiteite geniet. Die grootste trekpleisters vir natuurliefhebbers is stap en visvang. “Ons groot aantrekkingskrag, veral na die pandemie, is mense se behoefte om in die natuur te wees. Mense wil buite wees,” meen André. Du Kloof Lodge het ook ‘n restaurant waar besoekers vars forel kan geniet. Hulle bedien ook interessante nie-alkoholiese drankies soos sprankelende koue rooibostee. Du Toit’s Kloof Hut Ons maak nou ‘n draai by die geskiedkundige Du Toit’s Kloof Herdenkingshut. Die verskuilde oornagplek se nabyheid aan die N1 maak dit die ideale afskoppunt vir enige staproete deur Du Toit’s Kloof. Die hut bied ook toegang tot die Agtertafel- berg Hut wat verder in die boendoes geleë is. Die ligging bied ‘n swembad, braai- en kampgeriewe vir besoekers en kan tot en met ​12 besoekers huisves. ‘n Gastefooi van R100 per nag word ook gehef. Besoekers aan die hut kort nie ‘n permit nie, maar benodig ‘n CapeNature permit indien hulle die staproetes in die omliggende Limietberg Natuurreservaat wil aflê.

Dagbesoekers kan teen R90 per persoon per dag toegang kry tot Du Kloof Lodge en alle aktiwiteite op die perseel geniet.

Volgens die The Mountain Club of South Africa se webtuiste het die Du Toit’s Kloof Hut ‘n ryk geskiedenis. Die gebou is tussen 1947 en 1949 opgerig ter herdenking van klublede wat tydens die Tweede Wêreld Oorlog hul lewens verloor het. Die ligging was ook spesifiek uitgekies vir die doel weens die ongerepte natuurskoon. Indien jy belangstel om enige van die roetes wat ‘n permit vereis te doen, kan jy in kontak kom met CapeNature by 087 087 8250 of reservation.alert@capenature.co.za .

Follow us

@drakensteinmunicipality

@DrakensteinMunicipality

19

VARS | September

Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online