VARS NOV 2022

Valcare het met opleidingsprogramme vir nie-winsgewende organisasies begin nadat hulle agtergekom het dat daar ‘n behoefte vir veral die ontwikkeling van vaardighede is. Ná opleiding by Valcare is nie-winsgewende organisasies in staat daartoe om hul bedrywighede suksesvol te administreer. Die oogmerk is om stroombelynde sakestrukture in plek te stel. Só verduidelik Esté Beerwinkel, Valcare se kommunikasiebestuurder. Valcare se opleiding behels tans ‘n reeks essensiële kursusse (op verskillende vlakke), wat daarop gefokus is om nie-winsgewende organisasies in staat te stel om ‘n impak (‘n positiewe verskil) in die Drakenstein-vallei te maak. In 2023 sal Valcare met ‘n nuwe kurrikulum begin wat fokus op ‘n reeks nuwe onderwerpe, insluitende leierskap en bestuur, kommunikasie, bemarking, organisatoriese strukture, personeelbestuur en sosiale-impakopleiding.

Valcare se oogmerk met hierdie kursusse is om nie-winsgewende organisasies toe te rus met die nodige vaardighede sowel as hulpbronne. Bystand met strategiese beplanning, veral waar dit belanghebbendes aangaan, sal ook verleen word. Daarby sal riglyne oor hoe om met befondsers en begunstigdes te kommunikeer, verskaf word. Die kursusmateriaal sal ook insluit hoe om jou kapasiteit uit te bou en personeel op te lei. In ‘n besigheidsomgewing wat aan voort- durende verandering onderworpe is — soos in Suid-Afrika — is dit van kardinale belang om alle rolspelers sover as moontlik te bemagtig. In 2022 het Valcare reeds aan 179 organisasies bystand verleen ten opsigte van kapasiteitsbou en die aanleer van vaardighede. Volgens Esté verander dit “duisende mense se lewens”. Vir die span by Valcare is dit belangrik om ‘n werklike impak – oftewel ‘n maatskaplike belegging — in die Suid-Afrikaanse samelewing te maak.

Valcare spits hulle daarop toe om maatskaplike veranderinge te weeg te bring terwyl hulle kragte saamspan met maatskaplike beleggers, nie-winsgewende organisasies en ander sleutel-rolspelers. Nie-winsgewende organisasies én lede van die publiek kan by Valcare aansoek doen om aan hul opleidingsprogramme deel te neem. Besoek hul webwerf by www.valcare.org.za of stuur ‘n epos aan admin@valcare.org.za .

Ivan Swartz, hoof uitvoerende beampte van Valcare, vertel aan Vars oor sy span van passievolle individue wat nie net kenners op hul onderskeie gebiede is nie, maar ook entoesiastiese fasiliteerders van maatskaplike verandering in Suid-Afrika. Druk “play” om meer te leer oor hul werksaamhede.

Follow us

@drakensteinmunicipality

@DrakensteinMunicipality

17

VARS | November

Made with FlippingBook - Online Brochure Maker