VARS NOV 2022

Raadslid Solomons sê dis vir haar ‘n voorreg om die wyksraadslid vir Wyk 23 te wees en dat sy al 29 jaar woonagtig is in Klein Parys, wat binne dié wyk val. “Wyk 23 is ook die tuiste van welbekende sportlegendes wat diep spore getrap het in ons gemeenskap, soos Randy Marinus, wat onlangs vereer is met die Kaapse Wynlande Sportraad Eretoekenning; Patrick Poggenpoel; asook wyle Chester Williams wat ‘n trotse inwoner van Klein Parys was. Tamaryn Green, voormalige mej. Suid Afrika, het ook in Wyk 23 grootgeword.” Raadslid Solomons sê dié wyk spog met ‘n belowende jong fietsryer, Ethan Kulsen, wat reeds talle toekennings in fietsry verower het en onlangs Suid-Afrika op die fietsrybaan verteenwoordig het. Die Stormers-rugbyspeler, Salmaan Moerat, wat onlangs sy debuut vir die Springbokke gemaak het, is nog ‘n juweel van Wyk 23. “Die inwoners van Wyk 23 is soos een groot ketting waarvan al die skakels inmekaar pas, en elke skakel het sy unieke funskie en rol binne dié wyk,” verduidelik sy. In samewerking met die wykskomitee word die behoeftes en uitdagings van die wyk aangespreek. Die inwoners se veiligheid is vir raadslid Solomons van kardinale belang en sy het veral waardering vir die pligsgetroue buurtwaglede wat hul persoonlike tyd opoffer om saans (tydens Eskom se beurtkrag-toepassing) en naweke te patrolleer om die inwoners daardie gemoedsrus te gee. In die 2021/22 boekjaar is altesame sewe CCTV (“closed-circuit television”)-kameras in hierdie wyk geïnstalleer. Die Denneburg

Noodgroep Buurtwag het die voortou geneem, ‘n fondsinsameling gehou en begin om CC- TV-kameras in Denneburg te laat installeer – deur middel van ‘n wyksfonds-allokasie. Danksy bydraes van die inwoners van Klein Parys kon raadslid Solomons begin om ook in Klein Parys en Klippiesdal CCTV-kameras te laat installeer. Die verdere uitrol van dié kameras gaan voort. Uit die wyksfonds-allokasie van 2021/22 is 45 geleenthede aan EPWP (“Expanded Public Works Programme”)-werkers gegee; sekuriteitsopleiding aan agt jeugdiges; spyseniering aan 60 bejaardes; en ‘n Jeugdag-sportdag vir sowat 400 kinders aangebied. Raadslid Solomons sê sy glo in goeie kommunikasie en dat die inwoners ten alle tye ingelig en op hoogte gehou moet word van enige munisipale kwessies wat hulle mag raak. “Soos die gesegde dit mooi stel: ‘Rome is nie in een dag gebou nie’, en omdat die wyk so uiteenlopend is word daar daadwerklike pogings aangewend om elke inwoner se behoeftes of uitdagings aan te spreek en te hanteer, asook enige tekortkominge binne ons wyk.” Sy sê sy waardeer elke inwoner opreg, want die inwoners is die ekstra oog en oor van die wyk en as daar as ‘n span saamgewerk word, sal dit vrugte afwerp. “Al wat oor bly vir die mens is om uit te gaan en goed te doen - dís wat my elke dag motiveer om diensbaar te wees teenoor die inwoners van Wyk 23.” Om Raadslid Solomons of enige ander wyksraadslid van Drakenstein Munisipaliteit te kontak, kliek hier .

31

VARS | November

Made with FlippingBook - Online Brochure Maker