VARS_SEPTEMBER 2023

Die Clay Café is nie net bekend vir die verskeidenheid lekker kos en drinkgoed op sy spyskaart nie, maar ook vir die geleentheid wat hulle aan elkeen bied om jou innerlike kunstenaar uit te leef deur verskillende tipes breekware te versier. Besoekers besluit eers op ‘n rou pottebakkers- item, wat op rakke staan, waarna hulle uit verskillende tipes verfkwaste en kleure kan kies. Saam met hul ete kan hulle dan na hartelus dié item versier, en die geglasuurde finale produk na ‘n paar weke kom optel. Dié items strek van oulike pikkewyntjies en dinosourusse tot blompotte en opskepbakke. Vir diegene wie se kreatiwiteit ‘n hupstoot nodig het, is daar hulp in die vorm van stensils en vinielplakkers beskikbaar. Volgens Tamsin Snyman, 'n vennoot in die besigheid, kan die spyskaart as “easy eating” beskryf word. Geregte soos pizza’s, burgers, kaasborde, en vegetariese disse word graag saam met melkskommels van tuisgemaakte roomys, of wyn uit die omliggende area bedien. Vir kinderpartytjies is daar plek vir 20 kinders op ‘n slag, met ‘n spesiale spyskaart en toegewyde hulp om die partytjiebeplanning so glad as moontlik te laat verloop. Sedert die restaurant se opening in die Paarl het daar ook reeds tientalle verrassings-, verlowings-, en verjaarsdagpartytjies vir volwassenes daar plaasgevind.

Volgens Tamsin word elke personeellid ook op hul eie verjaarsdag soos ‘n koninklike behandel, omdat hulle glo dat gelukkige personeel ook gelukkige kliënte beteken. Sy sê dat hulle nederig dankbaar is vir hoe hulle tot dusver deur die plaaslike gemeenskap verwelkom is en ondersteun word. Die Clay Café Paarl het ‘n nuwe, moderne webtuiste wat die volledige storie van die restaurant vertel en belangstellendes deur die kreatiewe proses begelei. Spyskaarte en besprekingsvorms is ook hier beskikbaar. Die restaurant is elke dag van die week (insluitende naweke) van 09:00 tot 17:00 oop en dis maklik om aanlyn te bespreek. Lees meer en kry kontakbesonderhede by: https://claycafe.co.za/clay-cafe-paarl- groot-parys/

VARS | September

27

Made with FlippingBook Ebook Creator